Kinders wat floreer
Die eerste duisend dae van ‘n kind se lewe, vanaf bevrugting tot en met 2 jaar oud, is ‘n baie kritieke en sensitiewe tydperk van snelle groei en verandering. Dit is ‘n vensterperiode vir ontwikkeling wat die fondament vorm vir ‘n kind om sy of haar potensiaal te bereik.
Optimale ontwikkeling hang af daarvan of daar gedurende die vroegste maande en jare van ‘n kind se lewe ondersteunende en versorgende omgewings, asook kwaliteit verhoudings aanwesig is.
Wat gebeur in hierdie stadium?
Versnelde groei van die brein:
In hierdie lewensfase (0-2jr) ontwikkel die brein vinniger as ooit. Neurone verbind teen ‘n geskatte tempo van 1 miljoen per sekonde. Dit bind verskillende dele van die brein saam, sodat die kind ingewikkelde alledaagse take kan aanleer, soos om uitdrukking te gee aan emosies, te redeneer, logies te dink, ’n taal te praat, gesigte te herken en so aan. Hoe méér geïntegreerd en hoe wýer verbind ‘n brein is, hoe makliker is dit vir die brein om nuwe dinge te leer.
Die klein kindjie se brein word elke dag, heeldag lank, gestimuleer om alles wat rondom hom of haar aangaan te absorbeer, terwyl hy of sy haar volle energie spandeer op sy of haar eie ontwikkeling en groei. Hierdie is die fondament vir elke mens se vermoë om te kan dink, voel, beweeg en leer.
Sosiale bedrewenheid word gekweek
Dié dele van die brein wat met sosiale bedrewenheid help, groei baie vinnig in hierdie fase. Babas soek hulle ouers se aandag en toets hulle betrokkenheid deur te huil, te lag, te glimlag en te babbel. Wanneer versorgers op deelnemende maniere en emosioneel ondersteuend met kinders omgaan, stimuleer dit die kind se ontwikkeling. Dit skep reeds vroeg ‘n gesonde gehegtheid en babas leer hoe om sosiale verhoudings te bou – verhoudings waarop hulle kan staatmaak – wat essensieel is indien hulle eendag ‘n sosiaal-bedrewe volwasse lewe wil ervaar. Hierdie vroeë verhoudings help modelleer wat in ons latere verhoudings gebeur. Hierdie vroeë verhoudings berei ook die weg voor vir gesonde portuurgroep- en volwasse verhoudings, wat net weer onderstreep hoe krities belangrik hierdie era van ontwikkeling vir die jong kind is.
Taalontwikkeling
Babas het ‘n omgewing nodig wat ryk is aan taal en waarin hulle baie woorde hoor sodat die ontwikkeling van hulle neuron-verbindinge wat met die vorming van taal saamhang, gehelp kan word om optimaal te ontwikkel. Ons neem dikwels net aan dat taalontwikkeling iets is wat eers láter in die lewe gebeur. Die toppunt van die ontwikkeling van die brein in taalvaardigheid vind egter reeds op die ouderdom van 6 maande plaas. Dit is dus ‘n goeie belegging as jy met jou baba praat, sing, of lees. Jy gee die baba ‘n geweldige voorsprong vir wanneer hy/sy in die skool begin lees.
Die koers word reeds vroeg bepaal
In hierdie merkwaardige tyd van die ontwikkeling van die brein, word die rigting, of dan trajek waarin ‘n persoon se lewenskoers vorentoe gaan ontwikkel, vasgelê. Die brein bly ontwikkel en groei selfs ná dié fase. Dit staan bekend as die ‘plastisiteit’ (vormbaarheid) van die brein – die vermoë van die brein om uit ondervinding te leer, van opinie te kan verander, en voortdurend nuwe neuronverbindinge te skep. Die verskil is net dat dit later in jou lewe veel meer verg om die veranderinge mee te bring. Ons brein se plastisiteit sal nooit weer so goed wees soos tydens die vroeëre kinderjare nie.
Wat gaan ons die grootste kans gee om hierdie fondament te lê?
Kenners sê vir ons dat alle kinders oral – vanaf swangerskap tot twee jaar en verder – die volgende boustene nodig het:
- Goeie gesondheid
- Genoegsame voeding
- Beveiliging teen seerkry
- Geleenthede vir vroeë stimulering
- Deelnemende versorging (liefde)
Dit is van groot belang. Die primêre versorger moet hierdie boustene binne liefdevolle ontmoetings inwerk, terwyl fyn opgelet word watter seine die kind uitstuur en deur bloot emosioneel beskikbaar te wees.
Alle kinders oral in die wêreld het ‘n behoefte aan koestering en versorging binne liefdevolle verhoudings – met ‘n deelnemende versorger soos ‘n moeder, vader, ouma of tante. Dit is die fondament vir al die ander insette wat ‘n kind nodig het om te kan groei en te gedy.
Die kind se brein verwag en benodig deelnemende sorg vir sy of haar eie ontwikkeling en dit is die gesin wat sentraal staan om dit te voorsien.
Wat word van ‘n kind wat nie die boustene ontvang binne so ‘n deelnemende versorgende verhouding nie?
Dit word beraam dat 50% van alle kinders in Suid-Afrika nie gedurende die Eerste Duisend Dae van hulle lewe sal ontvang wat hulle benodig om hulle volle, Godgegewe potensiaal te bereik nie.
Dit beteken dat vir elke twee kinders wat in Suid-Afrika gebore is, die een se brein gevorm is om te leer, te groei en sukses te behaal, terwyl die ander een se brein so bedraad is dat leer en groei altyd ‘n stryd sal wees, ‘n stuk oorlewing en geen florering nie.
Elke ouer wil hê sy of haar kind moet floreer. Tog is daar verskeie faktore en situasies wat ‘n negatiewe impak het op ouers se kapasiteit en volharding om hierdie boustene te voorsien, naamlik armoede, siektes, stres, blootstelling aan geweld, psigo-sosiale risiko’s en sporadiese versorging.
Gee aandag aan die begin
“Dis wanneer jy aandag gee aan ‘n storie se begin, dat jy die hele storie kan verander.”
Sekere faktore kan gesonde breinontwikkeling bevorder en ander sal dit ondermyn en belemmer. Die goeie nuus is dat ons weet wat gesonde breinontwikkeling ondersteun en bevorder, asook wat die beskermende faktore is wat sommige van die risiko’s kan temper en selfs teenwerk. Dit beteken dat kinders wat in moeilike omstandighede grootword, steeds kan gedy en floreer. Daar is so baie wat ons kan doen om Suid-Afrika te help om haar volle potensiaal te bereik. Dit begin klein, dit begin jonk en dit begin alles by jou en by my.
READ FURTHER
The Big Idea
The great opportunity in The First Thousand Days
Children Thriving
Read how science explains what children need to thrive
Families Caring
Explore the unique challenges families face in this season
Churches Connecting
Read how the church is ideally positioned and equipped to be the village around a family
During the first thousand days, the brain grows to 80% of its adult size.
Lindland E, Richter L, Tomlinson M, Mkwanazi N, Watt K. Early Means Early: Mapping the Gaps Between Experts, Stakeholder, and Public Understanding of Early Childhood Development in South Africa. A Frameworks Research Report. Washington, DC: FrameWorks Institute; 2016.